Koms van die biblioteekbus en ander stories deur Keina Swart.

Die boek lyk te klein vir die volgepakte inligting daarin. Maar in 26 kort stukke beweeg Keina Swart oor indrukke, waarnemings, ervarings en vertellings met ’n amperse bedrieglike ligtheid terwyl die leser dan weer geruk word deur die emosie, tragiek of reddeloosheid wat in die gewoonlik kort stukke uitgebeeld word. Net om weer saam te lag oor ’n prettige onthoustorie.

Die rubrieke het voorheen in verskeie koerante en tydskrifte verskyn, daarom die uiteenlopendheid van die onderwerpe.

Swart is die meester om momente, vinjette en langer gebeurdes met raakvatwoorde vas te vat: “As oupas sterf, bly ’n ou stiebeuel, geroeste naelskêrtjie en ’n handvol haelgeweerpatrone in ’n laai agter,” skryf sy in “As oupas sterf”.

Ook kenmerkend van Swart se rubrieke is die verwysing na ou liedjies. Jy, die leser neurie weemoedig saam wanneer oom Beertjie met ’n pik aan die kap in barre grond lostrek met “Help Me Through the Night”, later ook met die lankal vergete “I Don’t Wanna Play House” in “Oom Beertjie van die Makatini-vlakte”.

Sy vertel op ’n reis (die familie reis baie!) aan haar kinders hoe die titel vir Neil Diamond se “What a Beautiful Noise” ontstaan het. (Sy dogter het by ’n karnaval uitgeroep: “What a beautiful noise, Daddy.”) Hulle wil dan gedurig Diamondliedjies sing. Maar dan neem sy die kinders na ’n One Direction-konsert. Die 12-jarige is meegevoer, kan ­“Heart Attack” nie uit haar kop kry nie. “Jy’t lekker vir Neil Diamond in die rug gesteek” terg haar ma daarna.

Soos baie rubriekskrywers se gepubliseerde bundels het hierdie ene ook historiese waarde. Die tydsgees word vasgevang, woordgebruik, gebeurdes, style en, soos die buiteblad en titel aandui, ’n ou verskynsel van dekades gelede.

As jong joernalis het sy nooit besef sy het ’n scoop gekry met die eerste verskyning van Eugene de Kock in die hof nie; sy het nie geweet wie hy was nie (“Die man met die bril”). Dan weer daag sy mans om hulle oop te maak om te bewys dat die paneelkassies net so deurmekaar soos vroue se handsakke kan wees. En watter verstommende inhoud vind sy nie in die paneelkassies nie!

Haar wêreld is oorwegend die Bosveld en die dorpie-lewe daar. Die oudmannekyn (let op die woord) bedryf ’n stowwerige oudmodiese rokwinkel en wéét dat sy moet toesluit, maar . . . Die polisieman Andries wat gehelp het om ’n vrou wat ’n baba langs die pad gekry het, hospitaal toe te neem. Swart neem hom ná 24 jaar weer na die kind, wat eers na hom genoem is (“Die kind se naam is Andries”).

Patos en humor vleg deur die onderwerpe. ’n Klein dogtertjie by ’n skoolkonsert lig haar ma in dat een van die seuntjies ’n vloekwoord gesê het, maar sy mag nie sê nie. “Maar dit begin met Firefighter Fred se naam.”

Hoewel die skrywer soms in die slaggat van sentimentaliteit val, of intieme en persoonlike verhoudings soos in “Die geliefde kind”, bly die genieting in hierdie boek wel die uiteenlopendheid van die stories. Dis ’n juweel van ’n saamdraboek.

  • Uitgewer: Naledi.
  • Prys: R175 – Koop Nou
  • Resensent: Martie Retief-Meiring

Oorspronklike artikel: Netwerk24