Elf briewe. Deur ’n Karooseun. Uit Malta. Daardie tingerige eilandjie met sy gróót geskiedenis – wat grootliks die kake van die tyd, natuur en mense ontglip het.

Jahwe sou destyds tien gebooie vir Moses op die berg bring. Riglyne vir ’n godsdienstige en morele leefwyse. Willie Esterhuyse gaan een treetjie verder. Sy elf briewe (een daarvan uit Stellenbosch) vertolk die morele vrae wat die Bybelteks vir hom oopgesluit het. Hierdie teks, erken hy, gryp hom aan. Beroer hom.

Vanaf Malta, wat op plekke in detail getuig van ’n belangrike oerbeskawing, skryf Willie meesterlik. Hierdie eiland staan in die teken van “gefossileerde tyd”. In opsigte is dit die “kraamsaal” van godsdiens. Hier dissekteer die skrywer akute en aktuele kwessies van ons tyd.

Hy trek sy lesers in in sy persoonlike reis met Jahwe – deur grafkelders, grotte en tempelbesoeke heen – in ’n poging om die tergende waaroms en worstelings, die vrae wat die Maltas van die lewe aan elkeen van ons rig, te verteer.

Hierdie Maltas is ook dikwels verstrengel, op ’n manier dikwels kousaal aan mekaar verbind deur ’n innig-ontblotende eerbied en verwondering. ’n Uitroep na Jahwe, die Bron, maar ook Kompas van ons inspirasie!

Wat sy boek so uitdagend maak, is dat niemand sy/haar soeke na die Maltas van die lewe, kan ignoreer nie. Want sien, Malta, met sy eiesoortige spore en skerwe van vrae en vertwyfelings oor lewensin, kom vir elkeen van ons.

Esterhuyse het lank gewag voor hy dié briewe begin skryf het. Uiteindelik het die proses van kreatiewe verbeelding hom gehelp om met ’n soort vulkaniese krag deur die harde kors van geykte geloofsidees – soos hy dit sien – te breek.

Hierdie boek wil op eerlike wyse – óók met stukkies humor, selfs moedswilligheid hier en daar – verskillende vensters op Jahwe, die Meer-as-die-Materiële, oopmaak.

Dit bevat wesenlik twee belangrike fasette: 1. ’n sterk historiese oorsig en 2. wat hierdie besoeke aan Malta aan hom as mens gedoen het. ’n Mens sou ook kon sê: Hierdie boek is ’n verbeeldingsvlug vanaf Laingsburg (waar hy grootgeword het) tot Malta.

Hierdie kombinasie van die historiese en persoonlike is nie altyd ’n maklike genre nie. Dis nogal moeilik om alle aspekte hiervan genuanseerd te integreer.

Die skrywer doen dit egter op só ’n manier dat hy vir sy lesers ’n nuwe kyk op Jahwe wil gee. Hiermee waag hy ’n wêreld wat menslik en leefbaar vir almal wil/kan wees. Sy inspirasie vir hierdie genre het hy gekry in Mark Twain se boek: Letters from the Earth.

Dit word telkens in sy briewe duidelik watter belangrike rol godsdiens binne die geskiedenis van oorlog en vrede gespeel het. Van hier waarskynlik sy besondere belangstelling in die verskynsel van geweld, asook vredesbou-inisiatiewe.

Willie Esterhuyse teken boeke by die ATKV-Boeke-oase tydens Aardklop. Foto: Izak de Vries

Volgens hom het die Godsbegrip en godsdiens oor duisende jaar geëvolueer. Die vroeëre godsdiens in Malta het na alle waarskynlikheid nie veel nagedink oor die lewe ná die dood nie. Die klem het dus nie soseer geval op die hiernamaals nie, maar eerder op die hier-maals, waarmee hy verkies om te werk. Die hiernamaals het later na vore gekom.

Hy glo nie meer in die teologie van sy Laingsburg-dae en latere opleiding aan die teologiese fakulteit (Stellenbosch) oor ’n persoonlike God wat alles geskep het en oor alles beskik nie. Hy het weggestap van ’n geykte Godsbegrip. Jahwe is vir hom die “onrustigheid” in sy bewussyn, wat hom uitnooi en aandryf om nuwe betekenis aan sy wêreld te gee.

Vir hom is dit moeilik, eintlik lastig om Jahwe as ’n persoon te definieer. Jahwe kan volgens hom nie “uitgespreek” word nie. Het nie ’n figuur of vorm nie. Is onnoembaar. Onsigbaar. Tog dui Jahwe ’n “teenwoordigheid” aan by mense en die wêreld.

En dít word bemiddel deur die “heilige tekste” – wat die mens tot hoop en moraliteit wil inspireer. Wat jou wil help om oor jou toekoms te kan praat. Dit wil ons help om te glo dat die mens en wêreld anders kán wees. Dat jy kán hoop op vrede, omgee en geregtigheid. Wanneer mense hom vra wat hy glo, beklemtoon hy dat hy eintlik ’n ander fokus het, naamlik hoop!

En hiervan is Jahwe en sy Seun vir hom Meestermetafore. Rigtinggewend. Inspirerend. Uitdagend. Die etiese appèl wat Jesus se boodskap op mense deur eeue heen gehad het, help Esterhuyse om die aard van sy eie menswees beter te verstaan. Hierdie Seun se boodskap was en is steeds histories. Dit skep nuwe werklikhede.

Eintlik bely hy dat hy verwonderd staan oor dinge wat hy in die heilige geskrifte oor Jahwe, die Gans Andere, lees. En hierdie verwondering is nie deur die wetenskap of filosofie verwater nie. Om die waarheid te sê, dit is deur sy betrokkenheid by etiek versterk.

Heelparty mense sal met hierdie persoonlike reis van die skrywer kan identifiseer. Veral die tussenin-mense: tússen godsdiens en geloof, hoop en wanhoop, sekerheid en twyfel, dogma en leefwyse, kerk en binnekamer. Ander sal net met dele daarvan gemaklik wees. Maar belangrik: Jahwe en sy teks gryp die skrywer sodanig aan dat hy ’n dienaar van die boodskap van hierdie teks geword het.

Esterhuyse gaan ’n klomp lesers vir ’n rukkie laat vertoef op Malta. Hierdie belangrike eiland of knooppunt in sy lewe wat hom gehelp het om nie net die verlede beter te verstaan nie, maar ook méér van Jahwe, as Meestermetafoor. Maar dis veel méér as net ’n reis deur antieke landmerke.

Chris Jones is ’n teoloog van Stellenbosch.