Pieter Fourie is ’n meester van die kort, klinkende vers. Sy gedigte is inventarisse en inkantasies wat enersyds die nostalgie na ’n vervloë plattelandse wêreld met sy lief en leed oproep en andersyds die ellende van moderne plakkerskampe onthutsend verwoord. Hierdie “bidsnoere” is inderwaarheid ’n beswering van die verganklikheid en van durende onreg. Fourie beoefen die liturgie van die poësie waarin sowel die verhewene as die alledaagse gewy word.

in ’n string

tussen voorvinger

en duim

gly sonder verset

dekades verby

in prewelgebed:

Bidsnoer is ’n waardige opvolger

vir Knapsekêrels, Pieter Fourie se
verrassende debuut van 2017.

Daniel Hugo