Hy wou net gou vinnig sy pa se motorfiets “leen” met die hoop dat hy Karien sal beïndruk en haar hart sal wen. Nou sit hy op die sypaadjie en sien die wrak van ʼn motorfiets en tannie Lenie se lewelose hondjie. Hoe het hy hier beland?

Die veertienjarige Juhan Bruwer was eens ʼn seun waarop enige ouer trots kon wees. Sy pa se regterhand, sy ma se oogappel – iemand na wie sy jonger sussie kon opsien. Talentvolle sportman, leier, akademiese presteerder. Dit alles verander wanneer hy keer op keer verkeerde besluite neem totdat hy uiteindelik heeltemal uit die wentelbaan van sy gesinslewe ruk en ʼn ander koers inslaan.

As straf begin hy vir tannie Lenie werk. Sy leer hom weer van liefde, vergifnis, goeie besluite en verantwoordelikheid. Is dit egter genoeg om Juhan weer op die regte pad te kry? Gaan sy vriende hom verder in die afgrond dryf of sal hy sterk kan staan?

Bont Alarm is ʼn verfrissende en onverwagse verhaal van tweede kanse, keuses en die verskillende roetes wat jou lewe kan inslaan.