Wanneer Alice Jules die oggend wakker word met die geur van koffie in haar neus, wat Jules, haar eggenoot gemaak het, kry sy vir die eerste keer in hul lewe saam die kans om ‘n paar goed van haar hart af te kry. Dit, terwyl hy agter die koerant sit – sonder om ‘n woord te (kan) sê.

“Hy is nie dood solank as wat sy dit nog nie vir iemand gesê het nie,” dink sy by haarself. “Hy leef, solank as wat sy wil. Daar is nog baie wat sy vir hom wil sê. Wat dit is, sal nog vir haar duidelik word soos die dag aangaan. Vandag moet almal haar met rus laat.”

Die buitekant van Meneer Jules is ‘n roerende relaas van hoe ‘n vrou met die onverwagse dood van haar man omgaan. Daarmee saam slaan die uitspraak van Dawid, die outistiese buurseun, wat soggens met Meneer Jules kom skaak speel, dat hierdie figuur slegs die buitekant van meneer Jules is, die leser vierkant tussen die oë.

Saam met Alice en Dawid word die leser ingetrek in ‘n intieme, soms erg humoristiese, verslag oor Alice en Jules se vroeëre lewe saam. ‘n Boek wat elke vrou wat nog iets wou sê, sal bekoor.