Die gebeure waarteen Die Lanternswaaier afspeel, is ’n tot dusver onontginde geskiedenis in Afrikaans. Die stranding van die Galera in 1892 op die rotse naby Danger Point aktiveer verskeie intriges. Sophie Lourens word as jong meisie deur haar vader gedwing om saans ’n lantern te swaai. Hiermee lok sy skepe na die land sodat dit op die rotse loop en strandjutters dan op die inhoud kan buitmaak. ’n Matroos van so ’n sinkende skip, vervloek die Lourens-gesin en hul nageslagte.

In Die Lanternswaaier word die sondes van die (vele) vaders, en hul skynheiligheid verken. Ou geraamtes klim uit die kas en die vloek van die matroos kom klop aan elke nuwe geslag se deur. Wat is Sophie se lot en is daar ’n manier om hierdie vloek vry te spring? Sal dit Robert of Kerneels wees wat Sophie se hart kan wen?