Grondhervorming jaag verskillende emosies by verskillende mense op net soos die kunsmatige skeiding tussen mense. Die onsinnigheid van hierdie skanse blyk eers wanneer verhoudings spontaan ontstaan en toegelaat word om natuurlik te ontwikkel. Dié boek toon hoe die aktuele werklikheid van grondhervorming in Suid Afrika deur die spontane goeie verhoudings tussen blanke boere en bruin plaaswerkers tot sinvolle en vreedsame naasbestaan kan lei. Hierdie goeie verhoudings is dan uiteindelik verantwoordelik vir die suksesvolle afhandeling van dieselfde plaaswerkers se grondeise op dieselfde en aangrensende plase waarop hulle grootgeword en gewerk het. Die teenoorgestelde word ook in die boek getoon hoe jy weens onaanpasbaarheid en selfsug alles kan verloor indien jy nie hierdie nuwe strewes in Suid Afrika kan aanvaar en daarby aanpas nie.

Die skrywer toon ook die beperkings van eie beheer oor mense se keuses in die lewe. Jy loop jou paaie soos wat dit vir jou uitgestraat is. Die vraag of dit “nie beter sou wees” as die mens vooraf “sy paaie wis” nie, word in die boek aan die orde gebring met die oopvlek van ou geheime van familievetes en buurtwiste. Verbode manewales oor die destydse kleurskeidslyn heen deur die baas van die plaas het drastiese gevolge op die grondeise van al die voorheen benadeelde plaaswerkers. Die aanvaarding van hierdie gevolge laat geen eie keuse nie maar is ook ‘n werklikheid waarmee die lewe almal dan dwing om te lewe.