Die negatiewe impak van apartheid het op verskeie gebiede in die Suid-Afrikaanse samelewing neerslag gevind wat talle uitdagings stel. Daarom het KunsteKaap ’n landelike uitreikprogram gekonseptualiseer wat beide die multikulturele aard van die Suid-Afrikaanse samelewing weerspieël en die skade van die verlede probeer herstel. Die Wellingtonse Klopse – 100 jaar se onvertelde stories vorm deel van hierdie uitreikprogram. Wellington is die enigste dorp buite die Kaapse metropool met ’n klopsekultuur wat al vir meer as 100 jaar deur die gemeenskap in stand gehou word. Die besluit om die sluier te lig oor die Wellingtonse Klopse is geneem ten einde die legkaart van die klopsetradisie in Suid-Afrika te voltooi. In samewerking met twee onderwysstudente van die Universiteit Stellenbosch, Allison Hoffman en Leandra Jantjies, en onder die leiding van dr. Michael le Cordeur van die Fakulteit Opvoedkunde, is die geskiedenis van hierdie kleurryke tradisie nagevors. Le Cordeur en nóg een van sy oudstudente, Marlene le Roux, tans direkteur van KunsteKaap, stel met hierdie boek ‘n stuk merkwaardige geskiedenis bekend aan die breë Afrikaanse gemeenskap. Die Wellingtonse Klopse – 100 jaar se onvertelde stories is die verhaal van ’n eeue lange musiektradisie soos dit in die mond, geheue en harte van Wellingtonners voortleef.