“My boek is nou klaar ingekleur, wanneer kom die volgende een?”

“Ek sien só uit na jou volgende boek.”

“Wat is volgende? Ek hou van blomme en jou vroue met hoede is pragtig, kan jy nog daarvan teken?”

Ek het hierdie sketse vir julle geteken!

Ek hoop jy het my eerste boek Kom, kleur in! en ook my tweede boek Kom, kleur saam in! Dit het ontwikkel met lyn en onderwerpe in 2013 tot hierdie sketse wat nou voor jou op die skerm is. En soos ek begin teken het toe ek klein was, het my boeke en my kuns sedert my eerste inkleurboek vir grootmense ook ontwikkel.

Ek gaan sit nie en besluit ek gaan nou teken nie; ek teken net en is elke keer verstom oor wat op papier gebeur. Terwyl ek teken, kom daar pragtige herinneringe oor my pen se pad: ’n koester oomblik by my gunsteling skryf- en tekenplek, Pajamas en Jam in die Strand; ’n sonsondergang oor die see; ’n foto van ’n roos op Facebook; ’n vriendin se liefde vir wol; daardie hoed wat te groot is om te dra in die nuutste Vogue, ’n armvol potlode; die genot van vriendskap … die lysie kan lank word.

Ek probeer om goedheid in my sketse te sit – kosbare oomblikke, baie genot en my liefde vir wat ek doen. Dus, terwyl jy inkleur, weet dat jy ‘n stukkie van my siel by jou het asook my beste wense om dit te geniet!

Ek wens my oupa, die gryse ou heer met sy vilthoed, kon dit sien – hy sou verstom gewees het oor tegnologie. Daarom dra ek my eerste e-inkleurboek aan jou op, Oupa Baird.

Die wonder van kuns is juis dat dit die ongekende vermoë het om te kan ontwikkel – ek nooi jou saam op hierdie reis van inkleurprente se ontwikkel.