Sy tap ’n skuimbad en groottoon op die warm kraan, lê sy dinge en bedink.

Wanneer is ’n oorlog verby? Veldslae lê in die verlede, maar wat van die oorlog self?

Sou dit vir iemand soos Retief verby wees? Daar ie­wers op ’n solder op sy knieë tussen geskrifte en foto’s? Knipsels haat, woede, angs, verraad, barbaarsheid, hartseer en arrogansie? Alles waaruit oorlog bestaan: Sulke goed kan tog nooit rêrig weggaan nie?

Daar’s wel ’n ding soos ver­gewe en vergeet, maar soms is dit niks anders as toe­smeer nie. Papbroeke se verskoning om hul gewete te sus.

Oë toe en met die warm water wat om haar knus, dink sy weer aan Aletta. Wat gaan die vrou nou aanvang? Met haar kale kop? En wat sou sy, Nelia, gedoen het as sy saam met Aletta was. Ook die wa­pen opgeneem het?

Vir seker sou sy.

En weer die vraag: Wie’t be­sluit daardie oorlog is verby? Lord Kitchener? En sy seë­vierende krygshere? Lekker gerieflik sit hulle om ’n tafel daar in Melrose-huis, hoogs tevrede met hulself.

Kom Boer, jy’t nou ’n nuwe heer en meester. Jou va­der­land behoort nou aan die kroon. Hier, teken die ooreenkoms en parafeer elke bladsy. En as jy nie die knie buig nie, eilande toe met jou.

Ja, sy wat Nelia is, raak nou betrokke.