Die outobiografie van Sybrand Rynhardt de Beer, Hulle noem hom matrone, behels die aanloop tot en die viering van die hoogtepunte in sy loopbaan as die eerste manlike matrone in Suid-Afrika (1976) en daarna, eerste vroedmeester in die land (1979).

Dit was geskiedenis in die beroep van ’n man in verpleging, destyds ’n oorwegend vroulike beroep, in Suid-Afrika.

Die boek lig mylpale in verpleging uit en beskryf die eiesoortige eise en beperkings wat destyds aan mans in die professie gestel is. Die leser kry ’n blik op die professie van verpleging oor meer as 50 jaar.

Sybrand het sy verhaal verpersoonlik met sy memoirs en kosbare foto’s. Sy verhaal is in ’n gesellige verteltrant geskryf en daar is grepe uit sy grootwordjare in die eietydse taalgebruik.

Interessante koerant- en tydskrifartikels wat tydens die hoogtepunte van sy loopbaan verskyn het, vorm ook deel van die storie. Daar is na hom verwys as die “Vroedmeester”, ’n “Pa-trone”, “Doring van ’n matrone” en “Meneer die matrone”. Pittige opskrifte was “Yes sir that’s my baby” en “He strikes a blow for men’s lib”.

Die boek is bedoel as ’n ode aan die beroep van verpleging en as inspirasie vir voornemende verpleërs en verpleegkundiges.