André Pretorius is verlei deur Italië toe ’n Romeinse meisie hom in 1992 op ’n warrelwindtoer deur Rome geneem het. Vier jaar later het hy die land deurkruis met ’n universiteitsvriend, ’n rugsak en ’n tweemantent. Sedertien het hy teruggekeer op die spore van komponiste, kunstenaars en selfs Afrikaanse digters. In Italiaanse intermezzi bring hy die leser van aangesig tot aangesig met die vele gedaantes van hierdie land vol skoonheid en teenstrydigheid. Hy swig voor die wondere van die menslike gees in Rome en Venesië, maar hy verdwaal ook langs die agterpaadjies van Sicilië en die Abruzzi. Hy proe smake – balsemiek, Parmaham – uit die hande van dié wat hierdie sakramente van lewe vir hulleself gemaak het. Hy bejeën heiliges en pouse eers met verwarring en dan met ontsag vir hul heerskappy van die Italiaanse wese. Oor die jare verander sy reisgenote – van daardie universiteitsvriend tot sy verloofde en uiteindelik sy kleuterseuntjie – en elke keer is sy blik anders. Uiteindelik staan hy saam met die leser verwonder oor ’n aangrypende land met dikwels verrassende eggo’s van sy eie Afrikaanse wortels.