Nadat ek my studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi het, was dit my voorreg om vir 24 jaar as advokaat te praktiseer en daarna 20 jaar as regter van die Hooggeregshof van Suid-Afrika te dien. Die juridiese aspekte van Jesus Christus se skuldigbevinding en kruisiging het my oor baie jare gefassineer. Dit kan immers beskou word as seker een van dié belangrikste en mees gevolgryke verhore in die geskiedenis van die mensdom. Dit was vir my besonder leersaam om stelselmatig deur die verhore van Jesus te werk en die getuienis, uitsprake en “skuldigbevinding” te ontleed en uit te vind wat ons daaruit kan leer.
Dit geld ook vir die vraagstukke rondom Jesus se opstanding omdat daar uit verskeie oorde beweer word dat Hy nooit uit die dood opgestaan het nie en dat die hele storie ‘n bedrieglike wanvoorstelling van die waarheid is. Is dit dus moontlik om uit die beskikbare getuienis vanuit die Bybel en nie-Bybelse bronne tot ‘n vaste oortuiging van die waarheid te kom?