Gigi val pardoems! in Kimberley se Groot Gat terwyl sy die diamant soek wat haar moet help om ’n gesin van haar eie te kry. Vir langer as ’n week moet sy ’n stryd om oorlewing voer. Al troos is die blonde reddingswerker, John Seeley, wat weier om tou op te gooi.

Gigi weet nie die hele wêreld is in rep en roer oor haar nie. Nog minder dat sy ’n nuwe naam – Kaptein Seeley – het!

John kry dit uiteindelik reg om Gigi uit die Groot Gat te red en vir haar die huis te gee wat sy nog altyd so graag wou hê.

Maar die grootste les moet sy nog leer: die kosbaarste skat is klaar diep in jou hart!

Kaptein Seeley is die eerste kinderboek (5+) in die nuwe Selflees-Saamlees reeks van Naledi. Hierdie reeks gaan oor ware Suid-Afrikaanse dierestories wat geskryf is vir kinders wat net mooi self leer lees. Die storie word ook aangevul met ’n bietjie geskiedenis en riglyne aan kinders oor hoe om vir hul troeteldiere te sorg. Alles is op so ’n manier geskryf dat die kind self die boek van hoek tot kant kan deurlees. Agterin Kaptein Seeley is daar ook ’n QR-kode wat lesers kan volg om die regte Kaptein Seeley en John Seeley te ontmoet.