Product Description

In dié geestelike drama word die bekende (én minder bekende) Bybelverhaal van die Saligmaker se moeder, Maria, vertel. Jesus se lewe as die seun van die maagd Maria en die Heilige Gees, as mens en Goddelike tussenganger, van Sy geboorte tot lydensweg en kruisiging, word roerend  uitgebeeld vanuit ’n digterlike perspektief.

Die verhaal word hervertel deur vier hoofkarakters (twee egpare): Maria en haar man Josef, en Pontius Pilatus en sy vrou Claudia Procula. Verder word talle stemme ingespan om die  gegewe ouditief en dramaties in te klee.

Maria, Moeder van God is vir die dramaturg die vervulling van n hunkering, sedert sy jeugjare, om ’n drama te skryf oor Maria, die moeder van Jesus. Dit vervul vir hom ook ’n behoefte om sy Rooms-Katolieke skoling op die Kaapse Vlakte in herinnering te roep.