Die spoor van die Melody wat in 2009 deur seerowers aangeval is, word gevolg deur gevaarlike waters langs die Oos-Afrikaanse kus op tot die Suezkanaal waar bote deur oseane van woestynsand kortpad vat.

Op ‘n reuse-lynskip word Valentynsdag met derduisende rose uit Perth gevier.  Daar word ook op ‘n veerbootjie na ‘n eilandjie gevaar op ‘n speurtog na een van Amerika se yslikste politieke skandale, en die kinders beleef waar die skrikmaakfkliek Jaws vandaan kom.

Die leser word verras met Japanse puntenerigheid, Russiese “strand-apartheid”, en die skrywer se eie Oceanos-storie. Onvergeetlike hawens word herbesoek: die hiperaktiewe New York, sierlike Sydney en Kotor waar Noorweegse fjords en die Middellandse See as ‘t ware ontmoet.

Nie net lang reise besorg vreugde nie. Sowat 60 000 mense vaar elke somerseisoen langs ons kuste. Die Van Deventers het dit met vyfjarige tweeling-kleinseuns gedoen -en elke minuut was ‘n fees.