’n Nuwe bundel van fanie olivier, sy sewende en met die titel ou laaie, is ’n tematiese bundel waarmee hy terugkeer na een van sy ou liefdes: liefdesgedigte. Die titel verwys enersyds na die gedigte wat in ou laaie rondlê en nou saamgebring word, maar wil ook die ander betekenis van laaie, nl. streke, slimmig- of onnutsighede, byroep. In hierdie lywige bundel is daar gedigte opgeneem wat oor ’n baie lang tydperk geskryf is, soms op versoek van vriende of geleentheidsgedigte. Baie van die gedigte handel oor verhoudings in die virtuele ruimte waarin kitsgesprekke ontstaan, verliefdes letterlik via Skype inkyk op mekaar se lewens en daar dikwels nie ’n wag voor die mond geplaas kan word nie. Die identiteit van die spreker in die gedigte verskuif voortdurend en daar is geen verhoudingspatroon wat binne die bundel ontwikkel nie; die gedigte word alfabeties volgens die beginreel georden. Verstegnies is die digter hier op sy betroubare beste, gaan speels om met ou geykte versvorms om so nuwe gedaantes aan ’n óú wêreld te gee.