Al hoe meer mense is deesdae nie skaam om te sê dat hulle nie langer godsdienstig is nie, maar wel spiritueel.

Wat beteken dit? En wat maak spiritualiteit anders as om godsdienstig of religieus te wees? “Spiritualiteit” is op die oomblik die gonswoord binne en buite die kerk. Dit het amper mode geword om by iets spiritueels betrokke te wees of om jouself te etiketteer as spiritueel. In hierdie boek ondersoek die skrywer die term spiritualiteit en probeer hy in toeganklike taal die debat inlei en stimuleer sodat die leser sy eie opinie kan vorm en uiteindelik ’n eie definisie vir spiritualiteit formuleer. Die boek bevat geen hoogdrawende teologie nie, maar bied stimulerende leesstof vir soekers, twyfelaars en mense wat wonder of hulle dalk besig is om die pad byster te raak omdat hulle verskil van die tradisionele en konvensionele manier van glo en godsdiensbeoefening.