Joe Kitchen beskryf Sushi with Hitler as ’n “burleske fantasie”. Dit is ’n prettige satire, geskryf in Douglas Adams se styl, wat die spot dryf met alles en nog wat. Die outeur beskryf die boek as “heeltemal irrelevant” en die skoonheid daarvan lê juis in die ontsnapping wat dit bied van alledaagse probleme. Dit bevraagteken die status quo van feitlik alles en geen-een van die samelewing se heilige beeste bly onaangeraak nie. Lesers kan ’n magdom intertekstuele grappe verwag wat alles van klassieke literatuur tot popmusiek betrek.