Amore Bekker is die gewilde aanbieder van Tjailatyd op RSG. In dié huistoeryprogram deel luisteraars en bekendes gunstelingresepte met luisteraars.

“Daagliks net na 17:00 bel ek ’n luisteraar om te hoor wat maak hulle vir aandete. Ons het al wonderlike oomblikke beleef rondom die kospotte. Terwyl jou pad korter raak, kry jy idees vir aandete. Die afgelope drie jaar lees ek ook daagliks saamrybriewe deur mense wat probeer sin maak van hulle daaglikse bestaan. Sommige briewe is snaaks, ander is roerend. Tien van die gewildste saamrybriewe is ook in hierdie boek ingesluit,” sê Amore.

Hierdie kos-en-reisboek is ’n moet vir elkeen wat lief is vir avontuur – in die kombuis en op die pad.