Kleinboer skuil agter ’n skrywersnaam omdat hy, as Fanie de Villiers,
te dikwels die vraag “Is jy die krieketspeler?” moes beantwoord,
en om sy romans, waarin die hoofkarakter in-diepte navorsing in
bordele doen, geheim te hou van sy vrou. Kleinboer het BSc studeer
en toe vir langer as 20 jaar in IT gewerk, maar weens ’n begeerte om
nouer met taal om te gaan, hom na die uitgewerswese begeef, waar
hy as ’n taalversorger werk. Sy drie romans was Kontrei (bekroon
met die Jan Rabie Rapportprys), Werfsonde en Hierdie huis. Met
Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels debuteer hy
as digter. Sy gedigte bevat huislike toneeltjies (nie altyd vredig nie),
bedenklike groenkrui-gedagtes, en geheueflitse na wilder jare. Hy
woon in Yeoville, Johannesburg. Hy probeer minder as twee maal
oor naweke braai en kry dit soms reg.