Vuurvas is ’n meditasie en ’n belydenis wat die ironie en paradokse van die bestaan nie uit die weg gaan nie. Algemeen menslike belewings vind hier neerslag in ’n fynsinnige digterlike vorm. Wat bely word, is ervarings van verlies en aanvaarding, maar veral die proses van loutering. Niks word gelouter of gesuiwer sonder pyn nie.

Die gedigte gaan oor die onskuld en verwagtinge van ’n kind in sy eerste landskap, die ontnugtering en vervreemding wat die volwasse bestaan meebring, en die uiteindelike aanvaarding en omarming van pyn, siekte, ouderdom en dood.

Talle gedigte verwoord die belang van vriendskap, stilte en eenvoud in die strewe van die digter-spreker en sy vermeende lesers om beter, meer aards en regverdiger te lewe. In ’n tyd van vervlakking, konflik, ontremde kommunikasie en gejaagdheid, bied Vuurvas nie alleen ’n verwysing na die onvernietigbare kiem van hoop, regskapenheid en welwillendheid in die mens nie, maar dien ook as ’n voorbeeld van aandagtige en gevoelige omgang met taal en verwoording.

Marlene van Niekerk

 

Die brandlelie – ’n blom met ’n salm-rooi kleur (sien voorblad) – verteenwoordig ’n merkwaardige natuurverskynsel. Dit is dié van opbloei en groei te midde van en selfs as gevolg van vuur, brand en vernietiging. Die brandlelie verskyn gewoonlik nege dae na ’n veldbrand. Dit is die eerste teken van lewe wat soos ’n feniks uit die as verrys. Hierna bly dit periodiek groei, dikwels tot vyftien jaar.