Tobi Jooste se nuwe boek, “Als is ‘n F*kop!” tref die rakke

Artikel in die Vaal Weekblad Klik om die artikel in die Vaalweekblad te sien

Tobi Jooste se nuwe boek, “Als is ‘n F*kop!” tref die rakke

Skrywer-sanger gee raad oor hoe jy nie net jou hande nie, maar veral jou emosionele welstand moet skoonhou.

Alles is deesdae ’n gemors! Dinge is deurmekaar, donker en onseker. Nou het Covid-19 ook nog ons lewens onherroeplik kom verander. Planne en drome vir die toekoms het gister se gedagtes geword. Ons glimlagte moet agter maskers weggesteek word en sosiale distansiëring laat ons nie net verder van mekaar wegdryf nie, maar ook van onsself.
Só lees die agterblad van Tobi Jooste se nuwe boek, Als is ‘n F*kop!
Ons het Tobi Jooste leer ken as sanger, sakeman en TV-persoonlikheid uit die Karoo. Met sy goed afgeronde baritonstem het hy al menige harte met sy vertolking van Afrikaanse, Engelse en selfs Italiaanse liedjies verower.
Jooste is egter ook ‘n gerekende skrywer. Ná die sukses van sy tweede boek, Daar is ’n Eiffeltoring in sy boedel, wat ’n topverkoper met vyf oplae was, is hy terug met ’n boek waar hy daardie jakkalsies wat tussen jou en geluk staan, kaalvuis aanpak.
Hoewel dit nie ‘n boek oor Covid-19 is nie, omskryf Tobi Jooste die emosionele impak van ons huidige situasie en lei ons daardeur met ’n deernis eie aan hom.
Die nuwe boek, wat deur Naledi uitgegee word, bevat 28 kort hoofstukke – elkeen net meer as ‘n bladsy lank, waarin hy alledaagse probleme by die naam noem en kommentaar daaroor lewer of raad aanbied.
Van die interessante temas sluit in: Dis normaal om te val; Om reg te wees is soms verkeerd; Los die verlede waar dit hoort, en Maak jy ‘n bestaan of maak jy ‘n verskil?
In die inleiding sê Jooste: “Die onsekerheid en onbekende van wat kom, bring emosies uit wat ons nie ken nie. Dit help egter nie dat ons ons hande elke uur ontsmet, maar vergeet om ons emosionele welstand skoon te hou nie. Dis juis die een ding wat ons deur die krisis gaan dra.”
Hoewel die titel – Als is ‘n F*kop! – redelik pessimisties klink, is daar ‘n eiesoortige opbeuring tussen die lyne en voel jy op ‘n manier verfris as jy dit deurgelees het. Daarom kan mens die subtitel van die boek beaam: “Tawwe tye hou nie, maar tawwe mense wel.

Die boek bevat ook ‘n goedbewoorde voorwoord deur Steve Hofmeyr.


 

Please follow and like us: