Abel Pienaar

Abel Pienaar

Ek skryf hierdie boek vir al die mense wat soos ek, nie meer gemaklik voel met die tradisionele antwoorde wat gegee word op lewens- en geloofsvrae nie. Mense wat self wil uitvind en ontdek. Mense wat nie bang is om wetenskap, filosofie en spiritualiteit deel te maak van hulle denke oor wie hulle is, van waar hulle kom en waarheen hulle oppad is nie. Binne hierdie bladsye dekonstrueer ek o.a. die geloof waarmee ek groot geword het. Ek probeer ook om my eietydse soeke en denke nuut te verwoord, om my prentjie van God eerlik te ondersoek. Hier­mee wil ek medesoekers en vrydenkers help om ook op hulle eie spiri­tuele reis te kan gaan. En al wat van elkeen op hierdie avontuur gevra word, is om altyd krities te dink en nooit hulle harte stil te maak nie. Ek nooi elkeen uit om saam met my bietjie dieper te delf in die misterie van die lewe. En of dit nou God of godsdiens is, evolusie of die Bybel, bid of mediteer, hiernamaals of hiernoumaals. Kom ons poog om nuwe maniere van dink, praat en beleef te vind.”


 

Sushi in the Kombuis

Singer, songwriter, poet and writer Koos Kombuis is as much a national treasure as biltong and braaivleis – but what does he have to do with sushi?
The artist first rose to fame in the late eighties as part of an alternative, anti-establishment Afrikaans music movement with the likes of Johannes Kerkorrel and Bernoldus Niemand. But it may come as a surprise that the Voëlvry-icon not only (still!) has a cult following among Afrikaans-speakers, but also among South Africans from all walks of life and even internationally, especially in the Netherlands where he regularly performs. Part of this artist’s success story is his ability to re-invent himself without losing his essence; thus, walking the tightrope of staying relevant and authentic.
Kombuis recently branched out, trying his hand at an English youth novel, Hubert the useless unicorn, that was extremely well-received by readers of all ages. The novel (also published in Afrikaans as Eben die ellendige eenhoring) appeared under the name Joe Kitchen. It was the first time that the artist used this pseudonym and when asked about the decision of using a different name, he replied that “Koos is not dead, but Joe Kitchen provides an outlet for another aspect of my artistic persona”. The name Kombuis simply did not roll comfortably off the tongues of English and international fans, but Joe Kitchen immediately hit a chord with them.
And now English and Afrikaans fans alike will be delighted to learn of his latest novel, which he describes a “burlesque fantasy”. Sushi with Hitler is a delightful satire written in Douglas Adams style, that pokes fun at everything but the kitchen sink. The author describes the book as “completely irrelevant” and to my mind its beauty lies precisely in the escape it offers from everyday problems (no loadshedding here!). But be warned, it is not a book for the fainthearted: it questions the status quo on just about everything and none of society’s holy cows remain untouched.
If you dare to read it, be prepared to be treated to a myriad of inter-textual jokes, involving everything from classical literature to pop music. However, even if some of the references are lost on you, don’t worry, the story in itself is just as hilarious and enjoyable. Many people may have many opinions about this book, but one thing is clear: Kitchen had fun making Sushi with Hitler. And, according to Kombuis/Kitchen that is just the recipe for South Africans to thrive: a dash of irrelevance, a deep questioning of everything around us, and some serious fun.

Sien jou by die Woordfees!

Naledi is trots om vanjaar betrokke te wees by verskeie Woordfees-optredes.

  • Op Vrydag 6 Maart gesels Prof. Willie Esterhuyse met Moeletsi Mbeki oor Oorlog en vrede. Daar word onder meer gevra of die mens – en spesifiek mans – van nature inherent gewelddadig is.
  • Op Saterdag 7 Maart bied Naledi in samewerking met Lapa aan Waldimar Pelser en Michael le Cordeur in debat met Amanda Gouws oor die onderwerp “Is die tyd vir politieke korrektheid verby?”
  • Poësie kom op die 10de en 11de Maart aan die beurt wanneer die vertaling van verse (met Daniel Hugo, Benno Barnard en Annette Snyckers in gesprek met Andries Visagie) en die verskynsel van die kleinboer as digter (met Pieter Hugo) onderskeidelik verken word.
  • Ook op die 11de Maart gesels Louis Awerbuck, Andreas van Wyk, Churchil Naudé en Riku Lätti oor Heinz Mödler se boek En daar was dagga. Kom vind meer uit oor dié besonderse plant en sy gebruike.
  • Op Saterdag 14 Maart is Naledi by die Digtersparadys met “verse wat groot mans laat huil”.

 
Alle kaartjies kan vooraf by Computicket of by die deur gekoop word. Sien jou daar!

Woorde wat hul storie ken

Dit is min mense gegun om ’n voltydse literêre lewe te lei. Bernard Odendaal is een van die gelukkiges. Hy was ’n poësiedosent aan die Universiteit van die Vrystaat en is deesdae die skryfskooldirekteur aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Daarby is hy skrywer van die digbundel Onbedoelde land (2007).
Die afgelope paar jaar het hy rubrieke en essays geskryf vir die webtuiste Versindaba, asook vir die Bloemfonteinse koerante Bloemnuus en Volksblad. Dié prikkelende stukke is nou gebundel inWoorde hul storie sien ken. Reeds met dié ongewone titel vestig Odendaal die aandag op ’n belangrike motief in sy skryfwerk: die taal in al sy verskyningsvorme, waaronder streektaal. Met genoegdoening lees ’n mens uitdrukkings soos “ou helfte van die middag”, “ordintlik”, “goeterse”, “komvandaan”, “omtes”.

Die skrywer skep self heelwat neologismes, soos “goegeloer” (’n internetsoektog met behulp van Google), “koueverskroeiing” vir “swartryp”, “liggieting” vir “sonskyn”, “veelal” of “meeral” vir “multiversum”, “internetskaats” vir “web surfing”, en “impulswildernis” vir die elektroniese media wat ons met inligting oorval.
Soos ’n mens van ’n digter kan verwag, is daar pragtige poëtiese taalgebruik op omtrent elke bladsy. My gunstelingstuk hieroor is die eerste een, “Laatwinterrit”, waarin ’n student die digter op sy eie terrein troef. Sy ry met hom saam van Bloemfontein na Potchefstroom en beskryf die landskap pragtig beeldend. Die Vaalrivier lyk vir haar byvoorbeeld soos “uitgerolde tinfoelie”. Op die ou end kan hy nie anders as om deur haar waarnemingsvermoë en digterlike formulerings geïnspireer te word nie. Die slotsin lui só: “Ek kyk déúr haar op na die sterreneste aan die nag se vertakkings.”
Die kuns van rubriekskryf is in die 1970’s deur Chris Barnard vervolmaak met sy Chriskras-stukke in Huisgenoot. In die titelstuk van Odendaal se bundel, “Die keer toe ek woorde hulle storie sien ken het”, vertel hy hoedat hy op skool deur sy Engels-onderwyseres aangemoedig is om vir ’n opstelwedstryd in te skryf. Hy wen toe, maar moet nou ná al die jare erken dat die treffendste passasies van sy Engelse wenopstel “oorgehewelde brokke” uit Barnard se rubrieke was. Dit is vir ’n skrywer die grootste kompliment denkbaar as hy geplagieer word. Dit het Bernard met Barnard gedoen.
Die bundel bestaan uit drie afdelings. Die eerste handel oor binnelandse en buitelandse reise, die tweede oor herinneringe aan die hoewe buite Bloemfontein waar hy grootgeword het (sy vrou noem hom ’n “plotrot”), en die derde bevat gemengde stukke. Van die nostalgiese skryfsels sê hy: “Mens se kop sypel vol vertes en verledes.” Een van die mooiste rubrieke in dié genre is “Ou veldflieke laat kry nostalgiestuipe”.
Soos dit ’n goeie rubriekskrywer betaam, skets hy grepe uit die lewe – selfs al handel dit ook oor die “stertkant van die werklikheid”, soos dit in een rubriek genoem word. Dit behels natuurlik ook dat die nuwe Suid-Afrika met sy geweld, korrupsie en bedreiging van Afrikaans onder die skrywer se skerp loep geneem word. Die ontstellendste stuk is “Woorde wat vlees moet word”. Dit verwoord Odendaal se onthutste reaksie op ’n koerantberig uit 2003 oor die massaverkragting van ’n jong vrou. Ons het al immuun geraak vir die gruwels waaroor ons in koerante lees. Dit kos ’n sensitiewe skrywer soos Odendaal om ons weer te laat meevoel met ons medemens.
Daar is ook heelwat humor in die stukke wat help om die ontsteltenis, verdriet en lelikheid te besweer. Hy en sy vrou reis in Griekeland, die sogenaamde wieg van die moderne Westerse beskawing. Sy kommentaar daarop is: “Dié wieg lyk deesdae na ’n ietwat slordige oumanskooi.” Die volgende vergelyking het my onkeerbaar laat grinnik: “Hy gee so ’n roggellaggie, soos ’n aansitter gekoppel aan ’n pap battery.”
Odendaal is in hart en niere ’n digterlike taalmens. Die mooiste sin in die bundel vir my is die volgende beskrywing van reën wat begin uitsak nadat dit lank weggebly het: “Dan begin die genade sing op die sinkdak; die geute begin die geluid namaak van ’n mooi woord soos ‘murmel’.”
Bernard Odendaal ken sy storie met woorde. Hy behoort woeliger daarmee te woeker en ons nie weer nege jaar te laat wag op ’n nuwe publikasie nie.
Naam: Woorde hul storie sien ken. Essays en rubrieke, deur Bernard Odendaal.
Uitgewer: Naledi.
Prys: R175.
Resensent: Daniel Hugo
Oorspronklike artikel: Netwerk24

Die eiland Malta se Meestermetafore

Elf briewe. Deur ’n Karooseun. Uit Malta. Daardie tingerige eilandjie met sy gróót geskiedenis – wat grootliks die kake van die tyd, natuur en mense ontglip het.
Jahwe sou destyds tien gebooie vir Moses op die berg bring. Riglyne vir ’n godsdienstige en morele leefwyse. Willie Esterhuyse gaan een treetjie verder. Sy elf briewe (een daarvan uit Stellenbosch) vertolk die morele vrae wat die Bybelteks vir hom oopgesluit het. Hierdie teks, erken hy, gryp hom aan. Beroer hom.

Vanaf Malta, wat op plekke in detail getuig van ’n belangrike oerbeskawing, skryf Willie meesterlik. Hierdie eiland staan in die teken van “gefossileerde tyd”. In opsigte is dit die “kraamsaal” van godsdiens. Hier dissekteer die skrywer akute en aktuele kwessies van ons tyd.

Hy trek sy lesers in in sy persoonlike reis met Jahwe – deur grafkelders, grotte en tempelbesoeke heen – in ’n poging om die tergende waaroms en worstelings, die vrae wat die Maltas van die lewe aan elkeen van ons rig, te verteer.
Hierdie Maltas is ook dikwels verstrengel, op ’n manier dikwels kousaal aan mekaar verbind deur ’n innig-ontblotende eerbied en verwondering. ’n Uitroep na Jahwe, die Bron, maar ook Kompas van ons inspirasie!
Wat sy boek so uitdagend maak, is dat niemand sy/haar soeke na die Maltas van die lewe, kan ignoreer nie. Want sien, Malta, met sy eiesoortige spore en skerwe van vrae en vertwyfelings oor lewensin, kom vir elkeen van ons.
Esterhuyse het lank gewag voor hy dié briewe begin skryf het. Uiteindelik het die proses van kreatiewe verbeelding hom gehelp om met ’n soort vulkaniese krag deur die harde kors van geykte geloofsidees – soos hy dit sien – te breek.

Hierdie boek wil op eerlike wyse – óók met stukkies humor, selfs moedswilligheid hier en daar – verskillende vensters op Jahwe, die Meer-as-die-Materiële, oopmaak.
Dit bevat wesenlik twee belangrike fasette: 1. ’n sterk historiese oorsig en 2. wat hierdie besoeke aan Malta aan hom as mens gedoen het. ’n Mens sou ook kon sê: Hierdie boek is ’n verbeeldingsvlug vanaf Laingsburg (waar hy grootgeword het) tot Malta.
Hierdie kombinasie van die historiese en persoonlike is nie altyd ’n maklike genre nie. Dis nogal moeilik om alle aspekte hiervan genuanseerd te integreer.
Die skrywer doen dit egter op só ’n manier dat hy vir sy lesers ’n nuwe kyk op Jahwe wil gee. Hiermee waag hy ’n wêreld wat menslik en leefbaar vir almal wil/kan wees. Sy inspirasie vir hierdie genre het hy gekry in Mark Twain se boek: Letters from the Earth.
Dit word telkens in sy briewe duidelik watter belangrike rol godsdiens binne die geskiedenis van oorlog en vrede gespeel het. Van hier waarskynlik sy besondere belangstelling in die verskynsel van geweld, asook vredesbou-inisiatiewe.

Willie Esterhuyse teken boeke by die ATKV-Boeke-oase tydens Aardklop. Foto: Izak de Vries

Volgens hom het die Godsbegrip en godsdiens oor duisende jaar geëvolueer. Die vroeëre godsdiens in Malta het na alle waarskynlikheid nie veel nagedink oor die lewe ná die dood nie. Die klem het dus nie soseer geval op die hiernamaals nie, maar eerder op die hier-maals, waarmee hy verkies om te werk. Die hiernamaals het later na vore gekom.
Hy glo nie meer in die teologie van sy Laingsburg-dae en latere opleiding aan die teologiese fakulteit (Stellenbosch) oor ’n persoonlike God wat alles geskep het en oor alles beskik nie. Hy het weggestap van ’n geykte Godsbegrip. Jahwe is vir hom die “onrustigheid” in sy bewussyn, wat hom uitnooi en aandryf om nuwe betekenis aan sy wêreld te gee.
Vir hom is dit moeilik, eintlik lastig om Jahwe as ’n persoon te definieer. Jahwe kan volgens hom nie “uitgespreek” word nie. Het nie ’n figuur of vorm nie. Is onnoembaar. Onsigbaar. Tog dui Jahwe ’n “teenwoordigheid” aan by mense en die wêreld.
En dít word bemiddel deur die “heilige tekste” – wat die mens tot hoop en moraliteit wil inspireer. Wat jou wil help om oor jou toekoms te kan praat. Dit wil ons help om te glo dat die mens en wêreld anders kán wees. Dat jy kán hoop op vrede, omgee en geregtigheid. Wanneer mense hom vra wat hy glo, beklemtoon hy dat hy eintlik ’n ander fokus het, naamlik hoop!
En hiervan is Jahwe en sy Seun vir hom Meestermetafore. Rigtinggewend. Inspirerend. Uitdagend. Die etiese appèl wat Jesus se boodskap op mense deur eeue heen gehad het, help Esterhuyse om die aard van sy eie menswees beter te verstaan. Hierdie Seun se boodskap was en is steeds histories. Dit skep nuwe werklikhede.
Eintlik bely hy dat hy verwonderd staan oor dinge wat hy in die heilige geskrifte oor Jahwe, die Gans Andere, lees. En hierdie verwondering is nie deur die wetenskap of filosofie verwater nie. Om die waarheid te sê, dit is deur sy betrokkenheid by etiek versterk.
Heelparty mense sal met hierdie persoonlike reis van die skrywer kan identifiseer. Veral die tussenin-mense: tússen godsdiens en geloof, hoop en wanhoop, sekerheid en twyfel, dogma en leefwyse, kerk en binnekamer. Ander sal net met dele daarvan gemaklik wees. Maar belangrik: Jahwe en sy teks gryp die skrywer sodanig aan dat hy ’n dienaar van die boodskap van hierdie teks geword het.
Esterhuyse gaan ’n klomp lesers vir ’n rukkie laat vertoef op Malta. Hierdie belangrike eiland of knooppunt in sy lewe wat hom gehelp het om nie net die verlede beter te verstaan nie, maar ook méér van Jahwe, as Meestermetafoor. Maar dis veel méér as net ’n reis deur antieke landmerke.

Chris Jones is ’n teoloog van Stellenbosch.
 

Onderhoud met André Pretorius oor Italiaanse intermezzi

André Pretorius gesels met Naomi Meyer oor sy boek Italiaanse intermezzi wat onlangs by Naledi verskyn het.
Hallo André, geluk met die boek Italiaanse intermezzi – Reissketse. Watse soort boek is dit hierdie?
‘n Boek van reisbeskrywings oor Italië – ‘n land wat na ‘n kwarteeu se reise nog nie sy greep op my wil laat los nie. Die eerste keer toe ek daar geland het, was ek 17 en op pad terug van die Olimpiese Spele in Barcelona. Daarna was ek ‘n armlastige rugsakreisiger – daardie maand lange reis in 1996 vorm die ruggraat van die boek – ‘n verliefde, ‘n enkeling, ‘n pelgrim, ‘n pa met ‘n kleuter aan die hand, ‘n ontdekker, ‘n strandlêer. Dit is my indrukke in elkeen van daardie gedaantes – en heelwat ander! – wat ek in die boek probeer opteken, want elke keer gryp Italië my op ‘n ander manier aan. Een reis, dus, met ander reise daarin verweef, en een boek waarin ek die baie Italiës wat ek oor die jare teëgekom het, probeer vasvang deur sy mense, plekke, kuns, kos en musiek.

Jy het al in baie dele van die wêreld gewoon. Wat bring jou terug na Italië?
Soveel van die vrugte van die menslike gees op sy mees verhewe is ontvang en gebore in Italië en is steeds daar te vind – ons is per slot van rekening die erfgename van ‘n kultuur wat tot ‘n beduidende mate sy beslag in die Italiaanse stadstaatjies van die Renaissance gekry het. Dus kan jy op die onbenulligste plekkie die mees onverwagse juweeltjies raakloop, soos die argitektuur van Palladio in Vicenza, of die Scrovegni-kapel in Padova of ‘n meesleurende skildery van Caravaggio in Siracusa. En die agterdoek vir daardie klein ontdekkings is ‘n land waarin die skoonheid van die oomblik verweef is in die alledaagse, waar die ontmoeting met ‘n volslae vreemdeling soms ‘n lewensbevestigende ervaring kan wees.
Wat is vir jou die persoonlike hoogtepunte van Italië: die kos, die wyn, die landskap, die kuns, die taal, die son (jy woon immers in Engeland) … iets anders?
Al daardie dinge! Maar veral die mense: jy kan die Italianers probeer weergee in beskrywings soos “warmte”, “passie” of “warmbloedigheid”, maar uiteindelik is daar nie woorde vir die omarming wat jy voel van ‘n Siciliaanse gesin se drie geslagte rondom hulle etenstafel nie – met oorgeërfde geregte uit die ouma se geheue. Of van ‘n ou wat in Reggio in ‘n koskroeg met sy skoothond sit en wag vir skaakopponente. Of van ‘n kêrel wat vir jou ‘n druppel van sy tuisgemaakte balsemiekasyn op ‘n teelepeltjie skenk vir proe. Of van ‘n antiekhandelaar op ‘n Toskaanse trein wat vir twee skurwe vente met ‘n tweemantent onderdak bied in haar Renaissance-villa buite Lucca. Italianers kan jou beide die harnas in jaag of verkwik – soms in dieselfde asem – maar hulle laat jou selde koud. En dit is wat reis in Italië vervolmaak, net soveel as die landskappe of die kuns of die kos.

Napels, Vesuvius, 2014

Italië kan maklik gereduseer word tot pizza, pasta, Venesië se waterstrate en die Dawidstandbeeld. Watter gedeeltes van Italië bekoor jou wat nie so bekend is nie?
Daar is min dele van Italië wat werklik nog onbekend is – dit is die implikasie van die Evelyn Waugh-aanhaling voor in my boek – maar onder die minder bekende dele wat my oor die jare bekoor het, is die Gargano-skiereiland aan die ooskus en die Barok-dorpies in die suidooste van Sicilië. Die Gargano is daardie “spoor” in die Adriatiese See boaan die “hakskeen” van Italië. Dit is ‘n landstreek van heiligheid: van hier het Kruisvaarders ‘n millennium gelede vertrek na die Heilige Land (en hul bouvallige kastele staan steeds teen die hemel afgeteken); hier het Italië se beroemdste heilige van die 20ste eeu – Padre Pio – sy lewe geslyt, en pelgrims stroom na sy heiligdom; en hier skryf plattelandse dokters godsdienstige amulette voor saam met antibiotika wanneer ‘n driejarige mangelontsteking kry … Die dorpies van Sicilië se suidooste – Ragusa, Modica, Scicli, Noto – is almal van die grond af herbou nadat ‘n aardbewing hulle in 1693 vernietig het. Hulle styl is dus eenvormig – ‘n soort hemelvaart van die Barok as verhoog vir die alledaagse wat bloei in ‘n harde, ongenaakbare landskap. Op sy manier is hierdie dalk die mees intens Italiaanse deel van Italië (al was dit tot in die 1860’s nie eens deel van Italië nie).

Sicilië, 2010

Deesdae kan Google mens help om baie omtrent ‘n land uit te vind. Hoe sien jy jou boek – vir iemand wat raad nodig het om die land te verken: op watter aspekte van die boek moet hulle fokus om reisinligting te kry?
Ek dink nie die boek bied veel in die aard van reisinligting nie – feitlik elke ander bron sal beter wees daarvoor! As die boek die voornemende reisiger enigiets bied, is dit dalk ‘n insig in ‘n plek of ding waarvan hy of sy nie geweet het nie, of ‘n invalshoek waaraan hy of sy nie gedink het nie. Miskien noop dit iemand om te dink dit sal goed wees om ‘n opera by te woon. Of om seker te maak dat waar hulle hul ook al in Italië bevind, hulle nie die gemetaboliseerde Katolieke heiligheid van Italiaanse alledaagse miskyk nie.
Die Italiaanse musiekterm “intermezzi” (meervoud van “intermezzo”) dui daarop dat mens nie iewers vertoef nie. Dis ‘n tussenwerpsel, dis musikale gom tussen die bewegings van sê maar ‘n opera. Waarom het jy hierdie titel gekies?
Dit is hoe my Italiaanse reise was: tussenspele, grepe van verkwikking, oomblikke waarin die groter temas van die lewe hulle in alle puurheid kon uitspeel. Ek kan nie in Italië woon nie en die langste wat ek op een slag daar was, was op daardie rugsak-en-tent-toer in 1996. Daarna het ek ‘n langnaweek hier en ‘n week of twee daar gegryp waar ek kon. Een van daardie grepe was een najaar op die spoor van Uys Krige se ontsnapping uit krygsgevangeskap in 1943; die subtitel van die boek wat hy destyds daaroor geskryf het (The Way Out, 1946) was “Italian intermezzo”. Die titel is deels daardeur ingegee. Maar jou verwysing na opera is ook raak: opera, veral melodramatiese 19de-eeuse Italiaanse opera, is vir my een van die waarmerke van die Italiaanse wese – dit is nie dat opera noodwendig so gewild is nie, eerder dat lewe in Italië elemente van die opera het. Daar is opera in die boek – in die opelug van Verona se Romeinse arena, by La Scala in Milaan – en die melodrama van die opera is oral te vind in die Italiaanse alledaagse. Dus ja, ek het gehou van die musikale ondertoon van die titel.

Sicilië, Punta Secca, 2012

Wat is jou gunsteling Italiaanse kos of resep?
Soos ‘n gunstelingwyn, is daar geen enkele antwoord op nie: die antwoord is ‘n funksie van tyd en plek en konteks en geselskap. Daar is fynkossies – soos die beste van al die Parmahamma,culatello di zibello, of die varsste van vars buffelsmozarella in die platteland rondom Napels, of die ongoddelik duur wit truffels van Piëmont – maar daar is ook die kos waarvan dit juis dieeenvoud is wat bekoor. Dit sal verregaande klink, maar van die genotlikste etes wat ek in Italië geëet het, was pasta by “strandklubs” in die snikhete somer: miskien met klein seekatjies en ‘n tamatiesous, of sommer net met tamaties, knoffel, vars kruie en olyfolie van die heuwel agter die strand. Of pizza langs die swembad van ons Napolitaanse kinderoppasser, waar haar oom heelmiddag die deeg knie voor hy vroegaand die pizzas een vir een in die houtoond druk.

Amalfi, Ravello

Vir iemand wat op reis na Italië wil gaan: noem jou gunstelingdorpe of stede en hoe mense prakties daar kan uitkom? (Kom ons sê mense het ‘n week tyd.)
Ek weet nie hoe ‘n goeie reisgids ek (of die boek!) sal wees nie. My beste raad is om meer plekke te verruil vir minder plekke in groter diepte. Moet dit nie alles probeer inprop nie: kies ‘n streek en belééf sy dorpies, sy landskappe, sy kos (want kos, soos alles in Italië, is streeksgebonde), sy onverwagse juweeltjies. En lees, lees, lees voor jy gaan.
Foto’s verskaf deur die skrywer: Naomi Meyer
Oorspronklike artikel: Litnet

Dié bus is propvol juwele van prettige onthoustories

Koms van die biblioteekbus en ander stories deur Keina Swart.
Die boek lyk te klein vir die volgepakte inligting daarin. Maar in 26 kort stukke beweeg Keina Swart oor indrukke, waarnemings, ervarings en vertellings met ’n amperse bedrieglike ligtheid terwyl die leser dan weer geruk word deur die emosie, tragiek of reddeloosheid wat in die gewoonlik kort stukke uitgebeeld word. Net om weer saam te lag oor ’n prettige onthoustorie.
Die rubrieke het voorheen in verskeie koerante en tydskrifte verskyn, daarom die uiteenlopendheid van die onderwerpe.

Swart is die meester om momente, vinjette en langer gebeurdes met raakvatwoorde vas te vat: “As oupas sterf, bly ’n ou stiebeuel, geroeste naelskêrtjie en ’n handvol haelgeweerpatrone in ’n laai agter,” skryf sy in “As oupas sterf”.
Ook kenmerkend van Swart se rubrieke is die verwysing na ou liedjies. Jy, die leser neurie weemoedig saam wanneer oom Beertjie met ’n pik aan die kap in barre grond lostrek met “Help Me Through the Night”, later ook met die lankal vergete “I Don’t Wanna Play House” in “Oom Beertjie van die Makatini-vlakte”.
Sy vertel op ’n reis (die familie reis baie!) aan haar kinders hoe die titel vir Neil Diamond se “What a Beautiful Noise” ontstaan het. (Sy dogter het by ’n karnaval uitgeroep: “What a beautiful noise, Daddy.”) Hulle wil dan gedurig Diamondliedjies sing. Maar dan neem sy die kinders na ’n One Direction-konsert. Die 12-jarige is meegevoer, kan ­“Heart Attack” nie uit haar kop kry nie. “Jy’t lekker vir Neil Diamond in die rug gesteek” terg haar ma daarna.
Soos baie rubriekskrywers se gepubliseerde bundels het hierdie ene ook historiese waarde. Die tydsgees word vasgevang, woordgebruik, gebeurdes, style en, soos die buiteblad en titel aandui, ’n ou verskynsel van dekades gelede.
As jong joernalis het sy nooit besef sy het ’n scoop gekry met die eerste verskyning van Eugene de Kock in die hof nie; sy het nie geweet wie hy was nie (“Die man met die bril”). Dan weer daag sy mans om hulle oop te maak om te bewys dat die paneelkassies net so deurmekaar soos vroue se handsakke kan wees. En watter verstommende inhoud vind sy nie in die paneelkassies nie!
Haar wêreld is oorwegend die Bosveld en die dorpie-lewe daar. Die oudmannekyn (let op die woord) bedryf ’n stowwerige oudmodiese rokwinkel en wéét dat sy moet toesluit, maar . . . Die polisieman Andries wat gehelp het om ’n vrou wat ’n baba langs die pad gekry het, hospitaal toe te neem. Swart neem hom ná 24 jaar weer na die kind, wat eers na hom genoem is (“Die kind se naam is Andries”).
Patos en humor vleg deur die onderwerpe. ’n Klein dogtertjie by ’n skoolkonsert lig haar ma in dat een van die seuntjies ’n vloekwoord gesê het, maar sy mag nie sê nie. “Maar dit begin met Firefighter Fred se naam.”
Hoewel die skrywer soms in die slaggat van sentimentaliteit val, of intieme en persoonlike verhoudings soos in “Die geliefde kind”, bly die genieting in hierdie boek wel die uiteenlopendheid van die stories. Dis ’n juweel van ’n saamdraboek.

  • Uitgewer: Naledi.
  • Prys: R175 – Koop Nou
  • Resensent: Martie Retief-Meiring

Oorspronklike artikel: Netwerk24