Johann de Lange

Johann de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore. Hy debuteer in 1982 met die digbundel Akwarelle van die dors waarvoor hy in 1983 die Ingrid Jonkerprys vir debuutpoësie ontvang. Daarna volg Waterwoestyn (1984), Snel grys fantoom (1986), Wordende naak (1988) waarvoor hy die Rapportprys vir Poësie ontvang, Nagsweet (1990), Vleiswond (1993) en Wat sag is vergaan (1995). In 1996 maak hy sy prosadebuut met Vreemder as fiksie. Sy tweede kortverhaalbundel is Tweede natuur (2000). In 1997 stel hy ‘n bloemlesing gay kortverhale uit die laaste honderd jaar saam getiteld Soort soek soort, en in 1998 ‘n bloemlesing erotiese poësie saam met Antjie Krog, getiteld Die dye trek die dye aan. Benewens die Ingrid Jonker- en Rapportprys vir Poësie wat vir individuele bundels toegeken is, ontvang Johann de Lange ook die Pankratorprys vir sy gedig “Skerpskutter” in ‘n internasionale poësiekompetisie deur UNESCO uitgeskryf, en ‘n Avanti-toekenning vir sy draaiboek oor die lewe van Ingrid Jonker (“Verdrinkte hande”). Sy vertalings van Afrikaanse gedigte verskyn onder meer in The Penguin book of Southern African Verse (1989), Breaking the silence – a century of South African women’s poetry (1990), Soho Square: a collection of new writing from Africa (1992), The heart in exile: South African poetry in English 1990-1995 (1996) en The lava of this land: South African Poetry 1960-1996 (1997). In 2007 verskyn The wisdom of water, ‘n keur uit sy vertalings van Wilma Stockenström se gedigte.