Johann Lodewyk Marais

Johann Lodewyk Marais studeer aan die Universiteit van Pretoria, waar hy in 2001 ’n DLitt-graad oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa verwerf en in 2013 die graad DPhil in Geskiedenis behaal met ’n proefskrif oor internasionale reisliteratuur oor Kenia sedert 1963. Hy het vroeër onder meer ’n MA-graad ( cum laude) oor opleiding in skeppende skryfwerk aan dieselfde Universiteit behaal, waarvoor die Marius Jooste-medalje aan hom toegeken is. Hy het reeds elf digbundels gepubliseer en het die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel, Die somer is ’n dag oud (1983), en die SALA-toekenning vir Diorama (2010) ontvang. Hy het ook drie poësiebloemlesings saamgestel, naamlik Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006). In 2003 verskyn sy eerste prosawerk, naamlik Lae wolke oor Mosambiek: ’n Reisboek. Sedert 2003 is hy ’n navorsingsgenoot van die Universiteit van Pretoria. In 2013 was hy Innibos se eerste feesdigter.