Wannie Carstens

Prof WAM (Wannie) Carstens is sedert Julie 1991 verbonde aan die Noordwes-Universiteit, (Potchefstroomkampus) waar hy tot einde 2016 die direkteur van die Skool vir Tale was. Hy is ten nouste betrokke by aktiwiteite wat Afrikaans raak (op beide akademiese en organisatoriese vlak), onder andere as stigterslid en eerste voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR). Hy was ook voorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA), van die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en van die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum. Hy dien reeds lank as direksielid van die Buro van die WAT en is ’n lid van die Raad van die Universiteit Stellenbosch. As gegradeerde NNS-navorser is hy die outeur van twee akade­miese boeke as alleenouteur en van twee as mede-outeur. Verder is hy ook mede­­redakteur van Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (2014, 2017), ’n handboek oor die moderne Afrikaanse taalkunde. ’n Tweedelige boekereeks oor Die storie van Afrikaans (saam met Edith Raidt) word onderskeidelik in 2017 en 2018 gepubliseer. Hy is medeverantwoordelik vir die totstandkoming van die Ernst van Heerden-versameling van Afrikaanse poësie in die Poëziecentrum in Gent, België en hy was ook betrokke by die sluit van verskeie uitruil- en samewerkingsooreenkomste met universiteite in die Lae Lande. Hy is in 2014 deur die ATR bekroon met ’n Kokertoekenning vir sy werk vir die Bevordering van Afrikaans.