Duimnaelsketse is die tweede bundel wat sy ontstaan het in my liefde vir die kwatrynvorm. Die eerste een was Weerlig van die ongeloof wat in 2011 verskyn het.

Die kwatryn met sy gedronge segging wat uitloop op

‘n epifanie, ‘n insig, die een of ander soort onthulling, is saam met die sonnet (waarmee dit raakpunte het) een van die gewildste versvorms en kom voor in die werk van die antieke skrywers tot die hede. Die vorm is gepopulariseer deur Omar Khajjam met sy Roebajat.

My ervaring is dat die kwatryn saam met die skryf van ander, langer verse ontstaan, dikwels doen ek dit as vingeroefening om skryffiks te bly. My kwatryne dek al die temas wat in my werk voorkom: liefde, erotiek, kuns, die natuur, en die dood. Ek dink ook die kwatryn bevredig die moderne tydsgees waar mens nie altyd die tyd het om aan die lees van ‘‘n langer vers of bundel te bestee nie. Dit dien as ‘n soort voëlvlug oor die temas waarmee die digter gemoeid is.