Plundering Ontbloot

(0 customer reviews)

R200.00

Plundering Ontbloot is ‘n spanningsroman oor die staatskaping wat die meeste Suid-Afrikaners
so die harnas ingejaag het. Die verhaal gee ‘n feitelike weergawe van die slim wyse waarop die
intelligensie verkry word om die plunderaars aan die pen te laat ry.
Ruan Terblanche, ‘n voormalige agent van die Nasionale Intelligensiediens, span sy kennis in om
die booswigte te jag. As navorser by die Instituut vir Navorsing, kan Ruan nie net terugsit terwyl
grootskaalse ekonomiese terreur plaasvind nie. Hy spring aan die werk …
Die skrywer, Fanie Cronje, deesdae ‘n sakeman en deeltydse omroeper by Netradiosa,was vir
vyftien jaar werksaam by die Nasionale Intelligensiediens. Hy gee lewe aan Ruan Terblanche as
‘n kader in die geheime wȇreld van die Intelligensiediens. Hy weet hoe want hy was daar.

Reviews

  1. Corrie Slabbert

    “Nobody ever leaves the KGB!” het die Russiese boef in die klassieke spioenasiefilm From Russia with love vir James Bond gesê.
    Vir diegene wat n deel van hulle lewe aan daardie professie gewy het in die Suid-Afrikaanse konteks, is die waarheid die teenoorgestelde. Dis die Nasionale Intelligensiediens wat jou nooit los nie. Dit gaan oor herinneringe, kameraadskap, interaksie met vlymskerp denkers en kampioen strateë; van die mees bekwame mense in ons geslag.
    Dit was ‘n tyd van bosoorlog, noodtoestande en totale aanslag, en in die veiligheidsmasjinerie van die 1970’ – 1980’s en vroeë 1990’s het die insameling van inligting die rol gespeel van gom tussen besluitnemers, beleidmakers, implementeerders en die veiligheidsapparatus van die Ou Suid-Afrika.
    Buiten vir die nou en dan se saam kuier en die herinneringe aan gemeenskaplike ou vriende, is een van die dinge wat byna al die lede van die eertydse Nasionale Intelligensiediens in gemeen het, dat hulle nie by ‘n boek oor spioenasie kan verbyloop, of ‘n spioenasiefliek kan mis nie. Ekself het al ‘n honderd of meer sulke boeke gelees. Maar een van die mees treffende is ongetwyfeld die onlangse Afrikaanse spioenasieverhaal Plundering ontbloot, van Fanie Cronje.
    Ek kan nie my vinger lê op presies wat my so geboei het nie. Miskien was dit omdat hy ‘n wêreld skep wat nie so vêr van die regte een is nie. Die tegnieke en gebruike wat hy daar neerpen is presies soos wat ek dit onthou uit ons opleiding en ons missies. Dalk is dit omdat ‘n mens nie anders kan as om n gesig en ‘n naam agter sy karakters te sit nie. Fanie beskryf mense, professionele intelligensie-operateurs en navorsers soos wat ons hulle geken het, net by ‘n ander naam. Hy boor selfs tot in die onmisbare administratiewe funksies wat die maak-of-breek van ’n goeie intelligensiediens is.
    Miskien is dit omdat hierdie wêreld wat hy skets, net so neffens die een waarin ons leef, vir die eerste keer op bekende plekke afspeel. Dis nie New York, Rome, Berlyn of Moskou nie, maar Pretoria, ja daar in Menlyn Winkelsentrum, in ’n koffiewinkel waar ons almal gereeld kuier. Mens ruik ‘n staatsdiensgebou se verbeeldinglose gange en trappe as ‘n karakter ’n senior amptenaar gaan sien.
    En dit is nie asof die verhaal een of ander nostalgiese terug grype is na ‘n tyd toe Suid-Afrika se intelligensiediens nog onder die bestes in die wêreld getel het nie. Dit speel af in die etos van vandag. Dit gaan oor ’n gekaapte staatsdiens wat deurtrek is van korrupsie en nepotisme, en waarin ’n morele pilaar in die instandhouding van die grondwet haar op ‘n netwerk van oud-kollegas beroep wat nou sakemanne en afgetredenes is, om hulle vaardighede en ervaring aan te wend om in ‘n allerweë onvriendelike omgewing die inligting in te samel om plunderaars aan die pen te laat ry en die waarheid bloot te lê.
    Fanie kry dit reg om ‘n leser te boei in ‘n baie realistiese verhaal van waarneming en agtervolging, insameling, verifikasie en verwerking van inligting tot ‘n verfynde intelligensieproduk op grond waarvan die land se leiers ’n geweegde hoë risiko besluit kan neem. Hoewel dit niks wegneem van die opwinding en aksie nie, bring Fanie die werklikheid van spioenasie huis toe in ’n vorm wat vir gesoute operateurs in die bedryf verteerbaar is.
    Hy was daar en het dit gedoen. Hy skryf daaroor soos hy praat; in ’n saaklike informele styl, van tierlanteintjies gestroop en bondig. Dis lekkerlees op sy beste. Dis ’n moet vir almal wat weet en almal wat nog altyd gewonder het hoe die regte lewe van ’n intelligensie-amptenaar in Suid-Afrika is. Die boek is meer as leesgenot. Dit bied ’n unieke versnyding van werklikheid en fiksie, oud en nuut, verbeelding in die ruimte van die moontlike en bekende, en bowenal ’n waardevolle toevoeging tot Afrikaanse spioenasielitteratuur.
    -Theo de Jager

Add a review

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui