Toy van Carnarvon

(0 customer reviews)

R220.00

 
Hierdie ware verhaal handel oor ’n jong seun uit ’n arm gesin wat op die spoorlyne van Carnarvon-stasie grootgeword het en as kind onder andere bottels en bene in die dorp moes optel en verkoop vir eksta geld vir die gesin om te oorleef.
Sy weetgierige geaardheid, positiewe uitkyk en wil om bo uit te kom, lei egter tot ’n inspirerende suksesverhaal. Die skrywer vertel met humor, passie en ’n gemaklike skryfstyl unieke en skreeusnaakse stories wat net in ’n klein Karoodorpie kan plaasvind.

Category:

Additional information

genre

Outobiografieë

Reviews

  1. Antoinette Pienaar

    Ek is gebore op Carnarvon as een van vyf susters en my hele wese is gevorm op hierdie onbeskryflike Karoo dorp en ek gaan nog gereeld terug op my kinder-voetspore. My verbeelding het wakker geword op Carnarvon en ek het my dae omgedroom by die Damkoppie agter die skool. So groot was my verbasing en my vreugde dat Stephen vir my op so ‘n besonderse wyse kon laat terugloop het, sy liefelike en opregte woorde het my aan my hand gevat en my meegesleur deur die strate van my kindtyd in Carnarvon.
    Ek het saam met Stephen fiets gery en my verlekker aan die kattekwaad wat hy en sy vriende op hierdie droë, dorre dorpie aangevang het. Die onskuld waarin sy woorde toegedraai is, het my my eie onskuld laat onthou. En dis nie net omdat ek op Carnarvon groot geword het nie dat die boek my so diep geraak het nie, die lewe van n kind op enige klein dorpie word hier geverf met woorde wat vir almal toeganklik is. Stephen se eerlike weergawe van sy lewe het my die bladsye vinnig laat omblaai.
    Baie van die klein Karoo dorpies word al hoe kleiner soos mense stad toe trek, so die tyd wat Stephen onthou is uit vergange se dae en die nostalgie het my doek-saf laat voel aan die binnekant. Ek hoop daar kom nog baie boeke uit Stephen se pennevrug, sodat ons as sy lesers weer saam met hom op reis kan gaan.
    Ek hoop dit gaan voor die wind, Stephen en baie geluk met hierdie lieflike boek. Jy het my hart laat sing terwyl ek dit gelees het!
    Karoogroete en onthou: Kruie Kraai Koning!

  2. Gawie van der Merwe (verified owner)

    Jislaaik Stephen, dit was nou ‘n lekker boek om te lees!

  3. Danie Botha

    Danie Botha
    Danie Botha was van 1972 tot 2002 fiksie-redakteur by Tafelberg-Uitgewers en ook die stigter van die druknaam Homeros. Ná sy uittrede is hy steeds werksaam in die uitgewersbedryf as vryskutboekeredakteur. Van 1986 tot 2007 was hy toneelresensent van Die Burger; daarna tot 2015 vir die teaterwebruimte van die Masque-teater in Muizenberg.
    Tans bespreek Danie boeke saam met Amanda Botha in Fine Music Radio se maandelikse “Boekkeuse” program. Van sy boekbesprekings word ná uitsending op LitNet geplaas asook dié wat hy net vir LitNet lewer.
    Hier volg ‘n kort uittreksel van die resensie van “Toy van Carnarvon” in “Boekkeuse” wat deur Fine Music Radio uitgesaai is op 15 Januarie 2020:
    Om hierdie ware verhaal te lees, was vir my sommer “vet pret”!
    Stephen le Roux alias Toy roep vir ons sy skoolloopbaan op in die jare sewentig en tagtig op Carnarvon in die Karoo. Van sy voorskoolse tyd tot in matriek. Sy pa het spoorlyne op afgeleë plekke deur die Karoo help bou, maar hy was toe reeds oorlede.
    Ma Kate is die ferm versorger en hou vir Toy soos die ouer kinders, Babs, Willem, Ockie, Ernie en Marietjie, op die regte pad. Hier is ook tonele met die onderwysers met hulle interessante gewoontes en byname soos Jassie, Tieties, Pannetjies, Koos Lyf en Fossiel.
    Die inwoners van die dorp en van elders tree op. Ook die plaasmense. Toy beleef avonture saam met sy tjommies soos Gotie, Tarzan, Pierre, Tjommie-Jan, Theo, Poensie en Pokkels en die hakkelende, maar wyse Wilro.
    Dan kom ons uit by Toy se seksuele ontwaking saam met meisies soos Isabel, Retha en Zelda as hulle hul so vas teen hom aandruk, so wonderlik met hulle tonge kan werk. Ná ‘n vryery met Zelda op die grasperk en ook op die rusbank op ’n Saterdagaand glo hy: “Vroumense is genoeg om ’n mens van jou kop af te dryf en beheer te laat verloor.”
    Die skrywer Stephen le Roux gebruik kontrasterings baie goed in die intrige.
    Toy kon met vakansiewerk en geld van sy hardwerkende ma die begeerlike tweedehandse Honda motorfiets koop by oom Frikkie. Toy ervaar die vreugde só: “Toe ek ’n paar uur later in die bad lê, voel ek soos die rykste man op aarde.” Toy sê vir sy geliefde hond Laska wat hom langs die bad met valkoë dophou: “Wat wil ‘n man nou meer hê? ’n Mooi bike en ’n mooi hond, dis seker al? ’n Mooi girl daarby sal seker die cherry op die koek wees.”
    (Terloops, hy en Laska ervaar iets heel ongewoons langs die dorpsdam. Oumeneer Hough, “amper negentig en pankop, maar nog kiertsregop en lank soos ’n paal”, daag met sy vroutjie met die grys bolla daar op. Oumeneer doen dan iets onbesonne. Wees op die uitkyk daarvoor teen die einde van die boek!)
    Toy as die ek-verteller vereenselwig hom so met sy jeugervarings dat dit jou absoluut oortuig, laat glimlag of ontroerd laat.
    Dit is bv. so oortuigend dat die leerders in die laer grade (toe standerds genoem) nog nie te gewaagde uitdrukkings gebruik nie. Maar hoe ouer hulle is, hoe krasser en lekker gekruie raak die uitdrukkings.
    Dis ‘n boek vir hondeliefhebbers (kyk hoe hy sy honde hanteer; vir Witvoet, Bollie en Laska). Bollie beskryf hy as “die pragtigste, wollerige, goudbruin hondjie” met “lang, sagte ore wat teen die kant van sy gesiggie afhang” en “met die twee mooiste, grootste ligbruin oë”.
    Dis ook ’n boek vir mense wat in stoomtreine belangstel, of graag op motorfietse by strande opdaag!
    Ek is beïndruk deur Le Roux se vermoë om jou as leser deur ‘n toneel te neem en jy dan bietjie later in ’n volgende toneel besef hoe alles eintlik subtiel afgestuur het op ‘n klimakssituasie.
    Danie Botha
    Skrywer, akteur en teaterresensent.

  4. Amore Bekker

    Amore Bekker – Aanbieder, Radio Sonder Grense (RSG)
    Lekkerste Wegbreek Boek!
    Toy van Carnarvon, gaan oor ‘n jong seun se grootwordjare in die Groot Karoo gedurende die mid 60’s tot vroeg in die 80’s. Dit is ‘n opwindende nostalgiese reis wat Trompie se stories soos ‘n Sondagskool uitstappie laat lyk!
    Toy en sy trawante het alles gedoen, waaroor enige skoolkind net kon droom……en weggekom daarmee.
    Geskryf in gemaklike styl, en van bladsy een af, word jy onmiddelik ingetrek in die gebeure.
    Dit is hartseer en skreeusnaaks met tye.
    Hy neem ons na ‘n tyd van stoomlokomotiewe, Valiants, chopper fietse en eerste soene.
    Sy boek het ‘n permanente plek op my rak, vir tye wat ek wil wegbreek. Want ek wil dit oor en oor lees.
    Daar is romanse, die noodlot, en groot lag wat vir jou wag.
    Amore Bekker
    RSG

  5. Theo Pellissier

    Theo Pellissier – Skoolhoof – Hoërskool Stellenbosch
    Het Toy van Carnarvon klaar gelees met n knop in my keel. Wat n pragtige storie wat elke jonk kind moet lees!
    Ek vereenselwig my met jou jongdae op Carnavon en haal my hoed af vir jou deursettingsvermoë. Daar is soveel lesse te leer uit jou lewensverhaal en jou boek kan beslis ‘n voorgeskrewe boek word vir Gr 10 of 11.
    Veels geluk met die baie besonderse boek , ek het dit geniet en ook dat jy my soms laat ruk het soos ek lag!

  6. Dr Handré Brand

    Dr Handré Brand, huidige rubriekskrywer en afgetrede Direkteur, Afdeling vir Akademiese Voorligting en Loopbaanontwikkeling, Universiteit Stellenbosch.
    Uitstekende werk gelewer Stephen!
    Wat my beïndruk het van jou boek is jou opregte en eerlike skryfstyl en jou goeie verhouding met en respek vir jou ma en julle as gesin se goeie verhoudings in die algemeen. Nooit het jy onrealistiese verwagtings aan haar gestel wat aardse goed betref nie. Jou hegte vriendskapsbande en portuurgroepverhoudings staan ook uit.
    Dikkes se plafonvallery is uitstekend sowel as jou weergawe van die skooltroepe en die “army” is puik gedoen en Oumeneer se natfluitery is skreeusnaaks!
    In die geheel gesien ń TREFFENDE boek waarin gesonde lewenswaarhede en lewensbeginsels oorgedra en prakties geïllustreer word. Baie geluk, gaan voort en skryf ‘n opvolg oor jou verdere lewenservarings.

  7. Pieter Vijoen

    Gaan beslis jou boek koop en lees. Groete Pieter VIjoen

  8. Cliff Smuts (Vryskut-taalpraktisyn en –resensent)

    In Toy van Carnarvon vertel die skrywer van sy skooljare as arm kind van ’n spoorwegwerker en roep hy die swaarkry en allerhande komiese insidente, kwajongstreke, avonture en onnutsighede op waardeur hy ervaring opgedoen het, sy talente ontdek en ontwikkel het en geleer het dat swaarkry tot volharding lei, alles wat hom uiteindelik die mens gemaak het wat hy vandag is. In sy woorde: “Yster slyp yster, so slyp die een persoon die ander” wat waarskynlik vandag nog sy motto is.
    Die boek lees gemaklik en ouer lesers sal dit ontsettend geniet en hulle kan vereenselwig met die tipiese sorgvrye plattelandse lewe van die sewentiger- en tagtigerjare. Maar op die ou end is dit nie net ’n gewone lewensverhaal nie; daar is (onbedoeld) lewenslesse in opgesluit, wat die boodskap oordra dat jy is wie jy is, dat jy deur ervarings groei en dat jou omstandighede nie bepaal waar jy eindig nie; dis wat jy met die omstandighede maak wat jou bring waar jy is.
    Beslis ook die lees werd vir seuns (en meisies) van alle ouderdomme.

  9. Andre Bester (Voetspore Spanlid)

    “Toy van Carnarvon” gaan oor Stephen se uitdagende maar tog prettige grootword jare in Carnavon en speel ook deels in Victoria Wes af. ‘n Definitiewe moet vir mense wat in die sestiger jare grootgeword het in die Karoo.
    Baie geluk Stephen…. Dit beloof n briljante boek te wees volgens die manuskrip wat jy vir my gestuur het. Ek sal hom definitief vir my boekrak kry.
    Andre Bester – Victoria West
    Voetspore (SABC 2) spanlid

  10. Daniel Krijnauw

    Stephen/Toy
    Ek haal my hoed af vir jou.
    Dit is etlike jare sedert ek laas n boek gelees het, want dit verveel my gewoondlik. Jou boek is uitstekend!!!
    Ek het dit werklik baie geniet.
    Jy het daarin geslaag om jou opgroei jare en ‘mens word’ in n boek saam te vat wat n uitstekende storie geraak het.
    WEL GEDOEN !!!
    Daniel Krijnauw – New Zealand

Add a review

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui