Stephanie & Henk Rappard

//Stephanie & Henk Rappard

Die outeurs van “Die Rooi Trem”, Stephanie en Henk Rappard, het die boek geskryf oor hul magiese herontmoeting. Hulle het in die eerste plek vir hulself stukke in kortverhaalformaat neergeskryf; hulle wou gebeure en die essensie van hul “sielsgenootskap” probeer verwoord. Volgens hulle het die boek toe eindelik ʼn lewe van sy eie gekry en is “Die Rooi Trem” gebore. Stephanie is ʼn reisjoernalis en Henk se foto’s word die afgelope paar jaar in die meeste van haar reisartikels gebruik. Henk was vir dekades by die Ministerie van Volksgesondheid, Welsyn en Sport in Den Haag, Suid-Holland, werksaam en was altyd lief vir fotografie. Stephanie se artikels en kortverhale word gereeld in verskeie publikasies soos Beeld, sy susterskoerante, Vrouekeur en Rooi Rose gepubliseer. Sy was vir jare betrokke by nuusblaaie en toerismepublikasies en het in die laat 90’s ʼn plaaslike koerant in die Laeveld op die been gebring. Sedert hul herontmoeting streef hulle daarna om elke dag ten volle te benut, sê hulle. Saam kan hulle nou drome navolg en nuwe avonture beleef. Hulle is ook gesoute reisigers, handelaars van versamelaarsitems en eienaars van ʼn mini-gastehuis én, ʼn tweede boek is nie uitgesluit nie.